Gebed vir Gifstowwe weens Onrein Eetgewoontes

Heilige Hemelse Vader, ek kom nou voor U met ‘n hart vol berou, omdat ek U gebod verontagsaam wat my leer om te onderskei tussen die dinge wat rein en onrein is.

Dankie dat U my na U Lig geroep het. Dankie dat die waarheid nou aan my openbaar gemaak is. Hou asseblief aan om die sluier van my oë af te lig. Ek bely nou my onkunde en my gebrek aan kennis.

Vader, ek wil nie langer die kennis waartoe ek gekom het verwerp nie. Ek kies om U woord en U wil te onderhou. Ek plaas dit nou as ‘n seël op my hart. Vader, ek vra nou dat U die sluier lig wat oor myself en my nageslag getrek is deur die gees van Vraatsug wat my mislei om giftige kosse in te neem, in die kragtige naam van Yeshua. Ek erken my skuld en ek bely dat ek deelgehad het aan die werke van die vyand. Ek vra vergifnis namens myself – asook namens my voorvaders vir elke ooreenkoms wat ons daarmee gemaak het deur onrein kosse te eet.

Ek breek nou die krag van elke vreemde DNA en gifstof wat in my liggaam ingekom het deur middel van hierdie verkeerde kosse. Ek breek nou die vloek wat dit op my en op my nageslagte het, in die kragtige naam van Yeshua. Ek bely my luste en my smagting na oordadige smake wat my verstrik hou in my verkeerde eetgewoontes.

Vader, genees my van die verslawende effek wat dit op my liggaam sowel as my gees het. Stort U Gees van Bevryding oor my uit sodat ek elke dag beter keuses in my eetgewoontes kan uitoefen. Leer my om nie altyd my liggaam se behoeftes eerste te stel nie, maar om eerder te fokus op die behoeftes van ander en ‘n konstante verhouding met U.

Vader, ons het ‘n verbond vir heilige genesing met U – U vergewe al ons sondes en genees al ons siektes. Dankie dat ons nou vergewe is. Daarom kondig ons nou met outoriteit aan dat daar volledige genesing kom regdeur elkeen in ons gesin se hele liggaam en verstand – in die Naam van Yeshua en deur die bloed van ons Messias. In geloof en met diep dankbaarheid verklaar ons nou elkeen van ons vry en ten volle genees.

AMEIN