Dinge wat God nooit gesê het nie

Ek hoor nou die dag weer iemand sê “God help die wat hulle self help” Laat dit jou nie ook voel dat harde werk jou in die hemel kan bring nie?

Dit is so dat God nie ooghare vir luiaards het nie (waarvan Spr. 6:6 is seker die bekendste teregwysing is), maar sê die Woord regtig dat harde werk jou nader aan die hemel gaan bring? Of mis die voorstaanders van hierdie filosofie nie dalk die hele punt dat die ewige lewe ʼn gratis geskenk van God is nie?

As ek na Rom. 6:23 kyk, lees ek dat die loon van die sonde die dood is, maar dat die genadegawe wat God gee, die ewige lewe in Jesus Christus is.

Die woord genadegawe maak dit tog duidelik: genade = onverdiend en gawe = geskenk, m.a.w. onverdiende geskenk!

Dr. R Larry Moyer is ʼn veteraan evangelis, CEO van EvanTell en gereelde spreker by evangelisasie uitreike. Ek het hierdie uitsprake raakgelees in een van sy skrywes op Faith-It se webbladsy. (Search for “http://faithit.com/5-things-god-never-said” if the link does not work)

Kom ons kyk na ʼn paar van dié uitsprake wat jou by wyse van spreke dalk meer af van die pad af as op die pad gaan hou. Van hulle sal dalk selfs op jouself betrekking hê, soos die eerste een in my geval.

  • Een van die uitsprake wat my vir baie jare teruggehou het was die een wat sê: “As jy nie die dag en datum onthou van wanneer jy gered is nie, dan is jy nie gered nie.”

Ek kan onthou die eerste keer toe iemand my daardie vraag vra – dit is ingebrand in my geheue: St 6, Saal opening, 15 Januarie – die Gideons het vir die St 6e ʼn Sakbybeltjie gegee. En binne-in was daar ʼn plek vir ʼn naam en datum – die idee was dat jy die Sakbybeltjie kry wanneer jy jou hart vir die Here gee, so dan skryf jy die dag en datum in. En my vriend draai na my toe en vra: Wanneer..

Sien, hy het sy hart vir die Here gegee op ʼn kamp en het die dag en datum geken. Ek was nie op so ʼn kamp nie, ek het net iewers langs die pad van grootgeword in ʼn familie waar godsdiens natuurlik was besluit dat ek ʼn kind van die Here is. Geen vuurwerke nie, geen openbaring nie, net ʼn innerlike besluit. Sonder ʼn dag en datum. En, soos die Engelse sê: “Got shot down in flames”…

Ek was bietjie verlore daarna. Onseker vir ʼn lang tyd…

Die punt wat ons almal daardie jare gemis het was dat die Woord nie teruggaan na ʼn dag en datum wanneer verlossing ter sprake is nie, maar na ʼn FEIT, en daardie feit is waar lê jou vertroue vandag, NOU!

Joh 3: 16 (NLV) sê immers nie “God het die mensdom so liefgehad dat Hy sy enigste Seun gegee het sodat elkeen wat in Hom glo en die datum ken, nie verlore gaan nie, maar die ewige lewe sal hê”. Nee, die vers eindig duidelik “elkeen wat in Hom glo, nie verlore gaan nie, maar die ewige lewe sal hê” Hierdie is nogal belangrik want as jy onseker is oor jou eie verlossing, hoe gaan jy met iemand anders oor sy verlossing praat?

As jou vertroue in Jesus as jou enigste pad hemel toe lê, is jy gered, ongeag van wanneer jy tot daardie besef gekom het. Dit tel nie! Die mikrosekondes wat verloop het terwyl jy van donker na lig beweeg het, het geen betrekking op wie jy vandag is nie. As jy deur ʼn dramatiese gebeurtenis tot geloof gekom het, great, as jy doodeenvoudig  net op ʼn dag jou sondige natuur besef het en jou geloof en vertroue van jouself 100% na Jesus geskuif het, net so great. Dit gaan alles oor waar jou geloof VANDAG lê. Waar jou vertrou VANDAG lê. In Jesus, of “elders”

  • Nog ʼn gunsteling is die uitspraak dat as jy gered wil word, hoef jy net te bid en vir Jesus in jou hart in te nooi. Die teks wat gewoonlik saam met hierdie woorde van menige goedbedoelende christene gebruik word is Op. 3:20 (NLV) “Kyk, Ek staan by die deur en Ek klop. As jy my stem herken en die deur oopmaak, sal Ek na jou toe ingaan en ons sal die fees-ete saam geniet

Die probleem met hierdie prentjie is dat dit nie die hele storie skets nie. Wat mis ons? ʼn Bietjie agtergrond.

Die betrokke verse kom uit ʼn skrywe aan die gemeente van Laodisea – m.a.w. ʼn gevestigde christelike gemeente. So dit is dus nie ongelowiges nie. Nee, hulle is bekeerdes, maar hulle was besig om afvallig te raak omdat dit so goed met hulle gegaan het. Die bekende woorde spreek Jesus uit as ʼn wens om weer kontak te maak met ʼn ou vriend, om genooi te word vir ʼn braai sodat ou verbintenisse hernu kan word. Nêrens hier is daar enige sprake van uitreik na ʼn ongelowige nie.

So, waar laat dit die ongelowige wat hierdie raad kry? Wel, plus minus halfpad: As dit net gaan oor die gebed met die uitnodiging, dan plaas jy jou geloof in die gebed, en nie in ons Verlosser wat op die kruis gesterf het nie. As die gevolg van jou gebed is dat jy Jesus die middelpunt van jou bestaan maak en glo Hy jou verlosser is, is jy gered en vir ewig aan Hom verbind.

In die boek van Johannes, wat algemeen beskou word as die boek wat geskryf is om ons te vertel hoe om die ewige lewe te verkry, word ons op 98 plekke aangesê om te GLO. Te GLO in Jesus as ons enigste pad hemel toe, ons enigste Verlosser. Dit gaan alles oor geloof in Jesus as ons verlosser. So bid, nooi hom in EN glo dat Hy jou persoonlike verlosser is. En jy is gered.

  • Nie almal het die gawe om met mense te werk nie. Party kan ʼn gesprek eiehandig aan die gang hou ongeag die onderwerp. Great. (Ek is seker jy ken van hulle…) Maar daar is dié van ons wat dit moeilik vind om uit die vuis uit te praat, veral as dit by Jesus en die Bybel kom.  Die volgende uitspraak is vir die sulkes ʼn doodskoot: As jy ʼn geleentheid om iemand van Jesus te vertel laat verby gaan en die persoon gaan hel toe is dit jou skuld!

Waar kom hierdie idee vandaan? Esegiël 3:18-19. Esegiël is deur God aangestel as ʼn wagter oor Israel. Hy moet hulle waarsku oor aankomende gevaar. Wanneer God vir Esegiël sê om iemand te waarsku wat in doodsgevaar is weens sy eie boosheid, en Esegiël doen dit nie, sal die persoon sterf en dan was die skuld op Esegiël. Hierdie was ʼn fisiese dood en nie ʼn geestelike een nie en dit was teenoor ʼn spesifieke groep in ʼn spesifieke omstandigheid.

Nêrens word dit in die Bybel as algemene opdrag uitgespreek nie.

Die gevaar hier is dat indien jy die idee toepas op evangelisasie is jy skielik verantwoordelike vir elke persoon met wie jy nie gepraat kry nie se ewige bestemming!  En dit kan nie so werk nie – om mense na Jesus te bring is letterlik ʼn Almagtige Taak. Maar om Jesus na die menigte te bring is meer binne ons vermoë – Joh. 6:44 (NLV) sê immers “Niemand kan na My toe kom as die Vader wat My gestuur het, hom nie na My toe laat kom nie; en Ek sal daardie persoon op die laaste dag opwek.

Skielik is die gewig van die evangelisasie werker se skouers af en dinge raak interessant en baie minder vreesaanjaend – want God hou die werker nie verantwoordelik vir die uitkoms nie!

Hierdie is maar net n paar van die uitsprake wat mense gebruik. Die les wat ek hieruit leer is dat my oë op Jesus moet wees en my aandag op God se woord. Toets alles wat jy hoor of na jou kant toe kom teen die Woord van God en wees verseker van jou antwoord uit Sy Woord uit.

Vertroue

In die boek Josua praat God met Josua oor die pad vorentoe, deur die Jordaanrivier in die land Kanaan in.  In Josua 1:9 sê God vir Josua: “My opdrag aan jou is dat jy sterk en dapper moet wees. Moenie bang of huiwerig wees nie. Die Here jou God is saam met jou in alles wat jy doen” (NLV).

Elke dag staan ek voor uitdagings wat n stukkie van my siel probeer steel, net so tussen deur, so effens ongemerk. Net daar waar ek op my swaarste trek – net daar waar ek besef ek is besig met die twee tree terug en nie die een tree vorentoe nie. Ek is besig om te verloor, ek gaan dit nie maak nie…

Ek staan by ‘n vurk in die pad – die wegwyser sê een kant is opgee en die ander kant is aangee. Opgee is n lekker breë oop pad vir sover ek kan sien, aangee lyk meer soos n ongeteerde onbegaanbare bergpas, maar ‘n besluit moet ek neem – óf links, óf regs – daar is nie n ander keuse nie.

Net hier is waar ek die belofte van God my eie moet maak. Hoe doen ek dit? Soos die spreekwoord sê: “Take Stock” Dis reg: Stop, haal asem, maak die saak bymekaar en gaan gesels met die Vader.

Ek sit by sy voete en pak die probleem voor Hom uit. Ek oordink wat Hy in Sy Woord aan my belowe en ek glo dit. Ek staan op met nuwe krag en VERTROUE dat my Hemelse Vader my gaan bystaan. Deur die moeilikhede, deur die swaarkry, deur die pyn en lyding. Nêrens sê die Woord dat kinders van God die lewe makliker sal hê nie, inteendeel, op ‘n hele paar plekke word dit genoem dat ons uitgelewer word, blootgestel is, onderdruk word, m.a.w. die aanvalle van die bose sal toeneem hoe nader jy aan God beweeg!  Dit is n feit.

My vertroue is nie in die hoop dat dinge makliker sal gaan nie, maar daarin dat ek nie alleen deur die swaarkry sal moet worstel nie. En daardie belofte gee God elke dag vir my.

Vetroue is my antwoord op Sy beloftes. Is dit joune?

 

Hello world!

Ons het almal al die woorde iewers gesien, maar besef ons die wonderwerk wat dit impliseer?

Hello World – die meeste jong programmeerders se eerste program uitvoer.

Wat van die toeris op die hoogste spits wat dit uitskree oor die vlaktes?

Wat van die oomblik wat n nuwe lewe die wereld inkom en sy/haar oë vir die eerste keer oopmaak?

Kom ons kyk van vandag af na die wereld met nuwe oë – Hello World!